Musicians:
Valiant Swart – Stem, akoestiese en elektriese kitare en mondfluitjie
Tim Rankin – Dromme en perkussie
Barry Steenkamp – Baskitaar
Schalk Joubert - Baskitaar
Simon Orange – Klawers
Basson Laubscher – Elektriese kitaar
Willem Fourie – Elektriese kitaar
Henry Steele – Elektriese kitaar
Adriaan Brand – Trompet
Lou-Ann Stone – Saxofoon
Jan-Hendrik Harley – Viola
Brian Choveaux – Tjello
Henryk Jacek Domagala – Viool
Lelanie van der Berg – Agtergrondsang
Lynette Petersen – Agtergrondsang
Anjulie de Vos - Agtergrondsang
Pietman Geldenhuys – Agtergrondsang
Pierre Greeff – Agtergrondsang
Press Release:
Valiant Swart se nuwe album Horisontaal tel weer die musikale drade op waar hy dit met 2002 se Maanhare gelos het. Intussen het hy hom besig gehou met kykNET se Song vir Katryn treffer-reekse (as akteur en skepper van die klankbaanmusiek), die album 'n Jaar in die son saam met Koos Kombuis, en die uitreik van die versamel-album Mystic Myle verlede jaar.
Horisontaal neem die luisteraar weer op reis deur Valiant se rock 'n roll landskap, met 12 splinternuwe liedjies. Sy stories word ingekleur met harde rock, bittersoet country, folk, boeremusiek en blues. Dis vintage Valiant, met ryk musikale teksture en woordkuns uit die boonste rakke.
Tematies ondersoek en beskryf die album die dinge wat Valiant ervaar in sy sonderlinge troebadoer-bestaan, maar tog is daar 'n universele inslag. Dit word aangebied met deernis en humor, en natuurlik top-bydraes deur 'n span gesoute musikante.
Die titelsnit "Horisontaal" handel oor sex, drugs en rock en roll. 'n Video van "Horisontaal" met Valiant en sy valiant,'n slang en'n paar kiste bier is by Matjiesfontein opgeneem.
"Vaalhoed se baas" is 'n ou boereliedjie wat Valiant se pa en oupa altyd gesing het. Valiant het met die verwerking van hierdie liedjie doelbewus weggebly van konsertinas en banjos en eerder gewerk met trompet en viola vir 'n ou Kaapse gevoel.
"Lekker Zef," 'n tong in die kies liedjie wat sosiale kommentaar lewer, kry tans groot applous by Valiant se vertonings. Daar word voorspel dat dit net so 'n groot treffer soos "Eyeshadow" gaan word.
Verdere snitte sluit in:'n resep vir moeilikheid ("Janfiskaal"); liedjies oor die liefde en die ironie daarvan ("'n Duisend maande" en "Soul meid" ); funky selfondersoek ("Oppisolo") en rivier ge-inspireerde songs ("Waar die wilde rose bloei" en "Tussen die lyne").
Valiant het die afgelope twee jaar baie tyd deurgebring by sy plekkie langs die Breederivier. Dit was vir hom 'n onuitputbare bron van inspirasie en baie van die beelde en ritmes op die album het hul oorsprong daar langs die rivier gekry.
Horisontaal is opgeneem by Sunset Recording Studios in Stellenbosch. Die musikale regie is deur Valiant behartig en Jürgen von Wechmar was die opname ingenieur.
|