The latest, and long-awaited, Jack Hammer album, 'Highway 13' was launched at the annual STRAB Music Festival at Ponta Malongane in Mozambique on the 30th May 2008.
Kommentaar op die grootpad
Carina Laubscher, 25 Junie 2008
Dis vier jaar sedert Jack Hammer die album The Pilgrim die lig laat sien het. Nou’s Jack Hammer terug in jou hoëtroustel met die kragtige Highway 13. Hulle is almal daar – Piet Botha sing, speel kitare, orrel, klavier en mondfluitjie; dan ook die jong Johnathan Martin wat sing, voorkitaar en tjello speel, Tertius du Plessis agter die groot diksnaar, en die enigmatiese Paul van de Waal op tromme.
Die pelgrim is nie meer in Mosambiek of Zanzibar nie – hy’s nou terug op die teerpad tussen sy land se stede, kitaar op die agtersitplek, en ’n vol bottel water in die koelboks. Hier is 11 oorspronklike snitte toegewy aan die musikant se ewige reis tussen optredes, sy strydende liefdehaatverhouding met die langpad, kommentaar oor die węreld en hoe sleg dit behandel word – met net een leenliedjie, die pragtige Carmelita, geskryf deur Warren Zevon, wat Piet Botha een dag aan die einde van ’n program op televisie gehoor het.
Jozi Town is wel die laaste snit van die album, maar is een van die belangrikste liedjies wat die onderliggende walging, verskrikking en skade van xenofobie beklemtoon. Dit onthuts ten spyte van sy vrolike reggae-ritme en “Ha-haha- ha-haaaia”-refrein deur Tidal Waves se Jacob Wulana en Sam Shoai. “They don’t want us here, they send us back again – everybody knows the refugee goes on the train ... but I don’t want to go, want to stay right here, in the land of milk and honey, I want my share…” Die liedjies wat van geldbeheptheid, kommersialiteit en węreldvernietiging praat, is Eden’s Lost, Rear View Mirror en Pharaoh’s Blues. Hier word die afskuwelike mag van Mammon uitgebeeld in “I came up to see the wise man to find out how much it would cost to get back to Eden – and then he told me – Eden’s lost… But still the empires keep building highways and towers that reach on high…”
Die reistema kom telkens sterk na vore in Stay at the Wheel, Don’t Let your Love Fade Away (glad nie so sentimenteel as wat jy dink nie), Rear View Mirror, Mr Midnight en natuurlik die peinsende titelsnit met If I Am the River ... then You Are the Sky.
Die liedjie wat ’n mens dadelik vasgryp en selfs radiojokkies behoort te laat regop sit, is die geheimsinnige en rebels-melodiese The Haunting. Dit begin rustig met ’n paar sagte mondfluitjienote en skop dan die deur oop met ’n donker: “Devil stay away from my back door – you keep coming around and I really don’t know what for - the people that you want they don’t live here anymore…” Die herinnering aan die geld wat ons almal vir die “Riverman” skuld, laat jou met meer hoendervleis as enigiets anders. Dieselfde geld “This Song is Old Now”.
Met Highway 13 trek Jack Hammer jou terug na die realiteit van ’n gulsige mensdom, die belangrikheid van nederigheid, en in die titelsnit se vlietende dobbeltema, met sy verwysing na nommers op ’n wiel: “Rain will fall like numbers in the wheel – 9, 10, 11, 12, 13...” Dit herinner jou aan die lotto, maar met hierdie album se snitte van 1 tot 12 verloor jy niks – jy wen jou eie skatkis vol uitsonderlike musiek, keer op keer op keer.
|