Suid-Afrikaanse musiek slaan nuwe rigtings in met die bekendstelling van die eerste album van Johnny Dopper en die Rubber Soles, 'Saterdag in Afrika'.
Die orkes speel ernstige jive-musiek. Dis feel good-musiek met 'n dansklank, maar elke liedjie vertel ook 'n storie... of dit nou die lot is van die arme ou wat op 'n High Maintenance Chick verlief geraak het, of 'n bepeinsing oor die bose uitwerking van laat slaap op die jeug (in Hoenner innie bank), Johnny Dopper het sy eie manier om na dinge te kyk.
Maar dis nie al nie. Grootstad-rock, Afro-folk lofsange, noodwendig die blues, en -- met 'n orkes met van die land se beste reggae-talent -- 'n unieke soort boere-reggae, wat alles so ineenskakel dat jy nooit seker is wat om van die volgende liedjie te verwag nie.
Met 'n renaissance van Afrikaanse populêre musiek wat tans in die nuus is, gooi Johnny Dopper en die Rubber Soles 'n uitdagende maar speelse klip in die bos van die huidige musikale bestel.
[April 2007]
|