In 1984 skryf en sing Richard van der Westhuizen die temalied vir die
gewilde TV-reeks Ballade vir 'n Enkeling. Die klankbaan van die reeks wat hy
en Louis van Rensburg opneem bereik goue status, en die temalied word 'n
klassieke treffer in Afrikaanse musiek. Later skryf hy Tussen Treine, en
bring saam met Lochner de Kock die gelyknamige CD uit in 1991, wat ook goue
status bereik. Tussen Treine is vandag nog 'n immergroen gewilde treffer.
Twintig jaar later stel hy nou 'n solo projek, Songs uit my Binnesak, vry.
Gebaseer op die verhoogproduksie wat vir die eerste keer in 2003 in
Oudtshoorn opgevoer is, bestaan die nuwe CD meestal uit ballades, nuwe
songs, en ook werk saam met Hennie Aucamp, Herman van Veen en Andrew Roos.
Onder andere is daar Engelliedjie, die temaliedjie van die gewilde KykNET
telenovella Hart van Staal, waarin hy ook die hoofrol speel. Ballade vir 'n
Vreemdeling besin oor die enkeling na 'n aantal jare. Genadewater bring
hulde aan ou musikante en daar is ook twee vertalings van oorspronlike
Hollandse songs deur Richard self.
Anneke Visagie en Karen Wessels sing saam en word in hulle eie reg in die
kollig geplaas op die album. Daar is 'n duet gesing deur Richard van der
Westhuizen en Anneke Visagie, teryl Karen Wessels 'n roerende rendisie van
haar eie komposisie, Hoe Durf Jy, doen. Die album word sterk ondersteun deur
die viool van Lizelle le Roux en die tjello van Emrie de Klerk. Musikale
verwerking en produksie is deur Andrew Roos en Richard van der Westhuizen.
Die songs is stil en deurleefd, meer melodie as rock, meer berusting as
angst, en mens word meegevoer na baie lekker holtes in die hart. Die songs
vertel stories van verlies, verlange en hoop, maar ook van frustrasie en
uiteindelik berusting. Die lot van ou musikante, die enkeling wat oplaas 'n
vreemdeling vir homself is, die helende koelte van water, en die engele wat
waghou by die ou wie se bakkie finaal die gees gegee het, is maar 'n paar
dinge waaroor gesing word.
|