Die snit 'Chaplin-Hoed' op Tussen die Duiwel en die Diep Blou See was die nommer 1 download op 24.com se download webblad vir die week 14 – 22 November 2006.
Persverklaring:
Tussen die duiwel en die diep blou see
is die titel van Bea se tweede album nadat haar debuut album in 2003 vrygestel is toe sy die kykNET ' Soek 'n Ster' kompetisie gewen het.
Bea bevind haarself egter glad nie tussen die duiwel en die diep blou see nie en weet presies waarheen sy op pad is! Sy beskryf haar musiek as folk-rock Afrikaans wat 'skop' maar daar is ook 'n ballade hier en daar om die balans te handhaaf. Die album het ook drie Engelse snitte op wat deur Bea self geskryf is. Tussen die duiwel en die diep blou see is 'n besonderse album met 'n unieke styl, diep lirieke en 'n fenominale fluweelstem daarop. Daar is twaalf snitte op die album en Bea het agt self geskryf.
'Ek skryf oor dinge wat met my gebeur, mense wat ek ken en kwessies wat my op die hart druk.'
- Bea
Chaplin-hoed
is geskryf oor die herontmoeting in Kaapstad met haar eerste liefde 'n paar jaar na die teleurstelling.
Daddy's girl
en Happiest Unhappy herinner aan Amerikaanse folk, terwyl die uitstekend vervaardigde spelerige trant van Kitsch Plastic 'n heerlike afleiding bied.
Die snit Londen-Sentraal ( geskryf deur Natie Botes & Richard van der Westhuizen) en musikaal verwerk deur Van der Westhuizen, is 'n treffer wat net wag om te gebeur. Kunstenaars Piet Botha, Richard van der Westhuizen en Coenie de Villiers sing saam met Bea op hierdie roerende snit waarvan die wysie jou net nie sal uitlos nie.
Simoné
en Kaapstad se fyn gekose lirieke moet uitgesonder word. Sky is deur Natie Botes geskryf en gaan oor legende Anton Goosen terwyl Piet Botha vir Bea op die vertolking van die snit begelei op die mondfluitjie.
Die album eindig met twee verskillende liedjies met die albumtitel – geskryf deur onderskeidelik Bea en Natie Botes – verskillend in trant en tema, maar ewe treffend.
Tussen die duiwel en die diep blou see is 'n album wat jy weer en weer sal luister totdat jy heeltemal daaraan verslaaf is.
|