Amanda Strydom se langverwagte nuwe CD, “Kerse teen die Donker”, is in Januarie vanjaar opgeneem by Marius Brouwer se Pop Planet Studios. Brouwer was ook verantwoordelik vir die produksie van “Vrou by die Spieël” in 1996 en was weereens klankingenieur en meestermenger op “Kerse teen die Donker”.
Dit is Strydom se eerste nuutskepping in vyf jaar sedert die sukses van haar album, “Verspreide Donderbuie/Scattered Thunder”, wat die SAMA en Geraastoekennings verower het.
Die album bevat 16 liedjies, waarvan 13 deur Strydom geskryf is. Getrou aan Strydom tradisie,is daar sosiale kommentaar, ballades oor die lewe, die liefde, ’n goeie skeut nostalgie en die verganklikheid.
‘n Verrassing op die album is haar duet met Stef Bos van haar lied “My Kamer”, wat verlede jaar met groot sukses in Nederland op ‘n solo CD vrygestel is.
Strydom sing op hierdie album in Afrikaans, Engels, Zoeloe en Nederlands.
Die liedjies is oor ‘n tydperk van vyf jaar geskryf.Janine Neethling, Strydom se musikale regisseur van die afgelope tien jaar, het die liedjies saam met Strydom gekomponeer,die verwerkings gedoen en was ook die vervaardiger van die ateljee opnames.
Strydom het op hierdie CD gewerk met haar toegewyde span musikante – Janine Neethling (musikale regisseur) op klavier, Rhodes klawerbord en akkordion, Floors Oosthuizen op kitare en David Klassen op perkussie. Mauritz Lotz het op die aangrypende “Pelgrimsgebed” kitaar gespeel en Ricus Nel het bydraes gelewer op konsertina en staalpedaal.
Met Denis Lalouette op baskitaar, Vinnie Henrico op dromme en Anneke de Villiers op viool. Die internasionale trompetspeler, Marcus Wyatt, bring ‘n nuwe dimensie aan liedjies soos “Slippers van Satyn” en “Summertime”, laasgenoemde wat Strydom in Zoeloe en Nederlands sing.
Bekende kollegas het ook kom kers opsteek en saamsing – Cutt Glas sorg vir pragtige harmoniëe op die album.
Strydom snoer in kleinskunstradisie haar nuwe liedjies saam met poësie en prosa uit haar pen om hierdie produksie ook ‘n woordkunservaring te maak.
Plakkate moontlik gemaak deur Rooi Rose en Revlon.
Die KKNK produksie van “Kerse” is benoem vir die Kannaprys vir Beste Kontemporêre Musiek Produksie en David Klassen is vir ‘n Kanna benoem vir sy bydrae tot die “Kerse” produksie in dieselfde kategorie.
“Kerse teen die Donker” is in Junie vanjaar in Nederland vrygestel en amptelik bekendgestel met ‘n konsert deur Amanda, Janine Neethling, David Klassen en Floors Oosthuizen in die Konijnklijke Carré Teater in Amsterdam op 25 September.
Hulle het deelgeneem aan die Wêreld Erfenisdag vieringe met Freshly Ground en Tina Schouw.
“Kerse” word ook by vanjaar se Aardklopfees vyf keer aangebied by Kyknet Gimmies vanaf 30 Sept – 4 Oktober. Met Melissa van der Spuy, Schalk Joubert, Jonathan Crossley, Vinnie Henrico en Cutt Glas.
[September 2008]
|