Piet Botha (geb. 18 Julie 1955) het reeds in die 1970s begin werk, speel en bou aan 'n legendariese reputasie in die Suid-Afrikaanse musiek landskap. Hy het reeds op skool begin liedtjies skryf en groepe vorm, op universiteit het hy toe saam met Abner Smith bymekaargekom om hul akoestiese duet te ontwikkel. Daarna vorm hy saam met die mense van Tusk (Doc Barendse, Dino Salvatori and Derek Riley) die groep Raven. Hierdie vierstuk rock-groep wen die landswye 'Beat 79' kompetisie vir nuwe rock-groepe en gee die single 'Wheel of Fortune' op David Marks se Third Ear Label uit.
Botha vorm toe Catherine Wheel saam met die twee lede van Wildebeest, naamlik Dave Tarr en Colin Pratley. Met Botha op bas, klavier en mondfluitjie, groei die groep na 'n vyfstuk en gee in 1981 die klassieke 'Bushrock 1' album uit. In 1984, begin Botha sy nuwe groep Jack Hammer, met Boet Faber, Jan Maloney en Eric Birckenstock, maar die groep se aktiwiteite moes wag toe Botha in 1985 hom in die VSA gaan vestig het. Daar ontmoet hy vir Billy Bob Thornton waarmee hy hegte vriendskapsbande gesmee het; Thornton het dan ook dromme gespeel en gesing op die eerste Jack Hammer album. Twaalf jaar later wen Billy Bob Thornton 'n 'Beste Akteur' Academy Award vir sy rol in die rolprent 'Slingblade'.
Na sy terugkeer na SA in 1986 begin Botha weer Jack Hammer en in die volgende tien jaar gee hulle vier uitmuntende en toegejuigde SA rock albums uit - 'Jack Of All Trades' (1987), 'The Judas Chapter' (1990), 'Ghosts On The Wind' (1994) en 'Death Of A Gypsy' (1996). Gedurende 1995 besluit Eckard Potgieter om sy suksesvolle CD klub, Mainline Music, uit te brei tot 'n Suid-Afrikaanse platemaatskappy, en so is Wildebeest Records gebore, met Piet Botha wat 'n groot deel van hierdie planne uitmaak. Wildebeest gee die Jack Hammer albums saam met albums deur Valiant Swart, Koos Kombuis, Die Transformers en die eienaardige Naaimasjiene uit.
In 1995 speel Jack Hammer as ondersteuning vir die Gauteng skof van die Uriah Heep/ Deep Purple 'Masters Of Rock' Suid-Afrikaanse toer. Jack Hammer het ook een van Piet se hoofinvloede, ZZ Top, ondersteun op hulle SA toer. In 1997, gee Piet Botha en Wildebeest Botha se eerste solo album, die slegs-afrikaanse 'Suitcase Vol Winter' uit, dit ontvang groot kritiese en publieke goedkeuring. 'n Tweede afrikaanse album, 'Jan Skopgraaf' is in November 1999 uitgegee en Piet het ook gedurende November en Desember 1999 saam met Johnathan Martin en Tertius Du Plessis deur Suid-Afrika getoer om die nuwe album en sy ander CDs te bevorder.
'n Jack Hammer versameling getiteld 'Anthology' is in Januarie 2000 uitgegee en spog met snitte vanaf al vier Jack Hammer albums, plus vier nuwe opnames, plus 'n heropname van hul klassieke 'Fort Lauderdale'.
- Stephen Segerman & Brian Currin, vertaal deur Saad Cloete, Januarie 2001
|