Die gewilde Radio Kalahari Orkes se eerste album, Stoomradio, het gouestatus behaal. Nou is hulle terug met hulle derde album, Heuningland, ‘n hutspot van musikale style met vele talentvolle gaskunstenaars, onder andere Valiant Swart, Chris Chameleon en Jack Parow. Heuningland is so Suid-Afrikaans soos koeksusters, biltong en mampoer, maar opgekikker met sprinkels Spaans, hier en daar ‘n Keltiese klankie en ‘n viool wat deurgaans die duiwels laat dans.
Met 15 liedjies wat wissel van vlymskerp, tong-in-die-kies sosiale kommentaar, sommige stuitig en sommige mymerend melancholies, is dit die antemiese, uit-volle-bors-saamsing-treffer, Staan My By wat kop en skouers uitstaan as die lied wat Suid-Afrikaners regoor die wêreld se hartsnare gaan roer.
Mens kan Staan My By reeds in jou geestesoor hoor waar dit om braaivleisvure, langs sportvelde, op skoolverhoë en blêrend uit karradios regoor die land opklink. Met Rian Malan se raakvat-lirieke, Chris Chameleon se goue stem en Ian Roberts se eiesoortige sjarme is Staan My By ‘n treffer van De La Rey-stoffasie. Maar hierdie is ‘n lied vir almal, my bra.