Albert de Vos ryg nie albums uit nie. Oor die afgelope sowat tien jaar was daar net drie.
Hoe presies 'n mens met De Vos se musiek moet kennis maak, is 'n netelige saak.Hy is nie weekliks op die verhoog nie, doen geen bemarking van sy musiek nie en jy sal na hom moet soek in musiekwinkels.
Diegene wat dus wel van hom weet, behoort die woord te versprei: Daar is 'n liedjieskrywer en sanger van formaat iewers in die land. Hy is vriende met onder andere Andries Bezuidenhout, Gert Vlok Nel, Willem Möller, Erns Grunling en Marinda Engelbrecht. Hulle kan jou vertel van die skaam man met die vol stem en die lieflike lirieke.
Ek het met hom kennis gemaak in die geselskap van Kleinboer. Oor die letterkundigheid van hierdie program kan 'n mens seker debatteer, maar De Vos se musiek was soos 'n poel waarin 'n mens sou spring sonder om eens te wonder oor die bodem.
Sy eerste album was Diep Karoo, die tweede Wolfman. As jy na die eerste een luister en die karige aantekeninge op die omslag lees, wonder jy of hy ooit meer as net vir sy vriende wou sing. Daar staan byvoorbeeld dat die swart humor op die album " verskaf is deur die lewe in die ou en nuwe Suid-Afrika.
Maar reeds hier het hy 'n indrukwekkende span musikante bymekaar gekry om hom te ondersteun met "blueserige kitare" kitare en 'n "gemartelde" mondfluitjie. 'n Paar van hulle is weer terug op die tweede album om onder meeer een van die beste beskrywings van die KKNK te gee wat nog neergepen is ( in " Strate van Oudtshoorn" )
Dit bring 'n mens by Gemengde Gevoelens. Agterop word die skets van 'n kraan deur Carine de Vos weer gesien.
Die nuwe album is netjies versorg met die lirieke en weer 'n die paar bekende name soos Willem Möller op kitaar en Tonia Selley (perkussie en melodika).
Omdat De Vos nie 'n kuiken is nie, maak sy lirieke sin. Daar is te veel jonges wat meen hulle kan oor die lewe, die liefde en ons land sing. Om werklik indruk te maak moet 'n mens die lewe, die liefde en ons land ten minse al beleef het.
Die intensiteit waarmee hy straattonele in die stad, randfigure, verlange en verskillende gemoedstemmings beskryf, laat jou alles aan die lyf voel.
In een lied sing hy byvoorbeeld van 'n "sielseersypaadjie" ; in 'n ander sê hy" ek's 'n sypaadjiepatriot sonder paspoort en visa".
Dan is daar die liedjie observasie van die man wat by sy tafel sit: " Jesus het nou net oor die pad geloop, maar die Melville bus het hom opgelaai".
Sy vertaling van Bob Dylan se lied " I Want You" in " Ek Wil Jou Hê" is nie heiligskennis nie, bloot iets wat presies inpas by die res.
Gemengde Gevoelens laat mens vir 'n wyle in 'n ander se siel kyk. As dit nie so is nie, moet my asseblief nie ontnugter nie.
Mariana Malan - Die Burger.
|