De Plate Kompanjie - Die Eerste Avontuur (Verskeie):
So vêr as wat kompilasie CD's gaan is hierdie een baie uniek. Dit is die 'Eerste' poging van 'n splinternuwe platemaatskappy genaamd De Plate Kompanjie wat deur Bertie en Beer van Zinkplaat saam met hulle vriend Porra gestig is. Dit is 'n ekskursie met die doel om nuwe, goeie, betekenisvolle en 'gees' musiek op te spoor, te probeer ontgin en bekend te stel aan die mense wat verdien om dit te hoor. Die storie loop dat Bertie geld geërf het en besluit het om daarmee 'n klomp bands wie se musiek hy geniet na die beste studio wat hy ken toe te vat, naamlik Sunset Studios waar die legedariese Jurgen von Wechmar agter die klankbord sit. Die bands wat Bertie toe nader is almal self lus om bietjie nuwe asem in die Afrikaanse musiekbedryf te blaas en so is 'Die Eerste Avontuur' gebore. Met bydraes van onderskeidelik Gerald Clark, Zinkplaat, FotoNaDans, Die Helde, Dikazzins, Sondag Sensasie, Orange Stilettos, Buitestander en Slagyster, wys hierdie CD mens wat ons die afgelope tyd in Afrikaanse musiek gemis het.
Met sy passie en siel vir Blues wat soos goeie wyn verouder het, gee Gerald Clark hier as 'Die Treffer' vir ons van die beste bewyse dat Blues, na 'n paar jaar in Amerika, weer besluit het om huis toe te kom na Afrika toe.
Zinkplaat
wys net weer hoekom hulle vir die afgelope paar jaar kon doen en speel wat hulle wil en waar hulle wil met hulle unieke musiek wat soos 'n baster uitstaan in die Afrikaanse musiekfamilie. Hulle sing oor die tipe lewe waaroor mense stories skryf en maak musiek wat soos 'n klankbaan vir 'n goeie fliek is.
FotoNaDans
bewys dat hulle afgelope agt maande van geheimhouding die moeite werd was, met twee uitstekende liedjies wat soos 'n Rock 'n Roll-stewel Afrikaans se tande uitskop.
Slagyster
kom soos 'n pyl vanuit een of ander engel se boog direk vir ons harte en probeer vir ons in woorde sit wat ons nog altyd sukkel om te verstaan van die liefde en die lewe.
Die Helde
storm in die kamer in soos 'n jong bankrower wat by sy eerste bank in hardloop en nie regtig weet hoe dinge gaan verloop nie, maar nogsteeds weet hy gaan met die Jackpot wegloop. Hulle kom vir ons siele met musiek wat so vars soos 'n vriesbries is wat teen jou rug af waai en so bekoorlik soos 'n ou toordokter is wat jou wil verlei.
Dikazzins
rol met stukkende instrumente en stemme van goud by die partytjie in en vang die lewe vas met wyse woorde en musiek wat so stewig soos 'n boek agter die woorde sit.
Sondag Sensasie
trek los soos iemand wat die waarheid gesien het en vir ons prentjies daarvan kom inkleur met 'n swewende stem en kitare wat weet waarom hulle ingespan word.
The Orange Stilettos
trek die gordyne oop en skyn nuwe lig op 'n skugter kabaret-tradisie en 'n slapende singstyl wat soos 'n nagtegal weer die mense van die dorp wil bekoor met haar melodieë.
Buitestander
kyk met 'n vreemde blik in hulle oë na die avontuur wat ons almal deel, en vat dan hulle waarnemings en hulle melodieë saam om vir ons te wys dat dit dikwels die konteks en die perspektief is wat ons herhinneringe noemenswaardig maak.
Met 'n nuwe uitkyk kom 'n nuwe lewe en met 'n nuwe lewe kom nuwe avonture. Dit is wat hierdie CD ons belowe. Dit is die moeite werd om te kyk of jy iets van waarde kan kry uit hierdie musikale uitbeelding van 'n nuwe avontuur.
|